Kwela

Sign up for our newsletter!
Bookmark with...

About this book

Plante kan praat | Short Stories & Fiction Anthologies

Jeanne Goosen

At last a new short-story collection by Jeanne Goosen, renowned novelist, playwright and poet.

Reviews

Die Burger
Joan Hambidge

12/07/2010

Hiperrealisme gemeng met ­ab­surdi­­­teit en ’n gevoel van nihi­lisme. Gooi ’n skeutjie gekheid by en jy het Jeanne Goosen se nuwe kortverhaalbundel, die eerste ná 15 jaar. Dit heet Plante kan praat.

Sy is digter, dramaturg, roman­skry­wer, kabarettis en rubriek­skry­wer, die ­skrywer van Om ’n mens na te boots (1975) en ­Lou-oond (1987); die weerga­lose Ons is nie almal so nie (1990) en ’n heerlike satire, ’n Paw-paw vir my darling (2002).
Met só ’n gedugte skrywer is die leser altyd geneig om tekste te ­vergelyk met ’n hoogtepunt en dan leesplesier te versmaai.

Dit sal ’n fout wees om hierdie boek met ander ­Goosen-tekste te wil vergelyk.

Lees dit eerder as besonderse, eenvoudige verhale – amper soos haar By-rubrieke – met ’n eie­soortige blik op die werklikheid en ­ingeboude satire: oor die mens se domheid en weerloosheid; sy ­geloof in ewigheidswaarde en ’n ­gebrek aan ­humanisme.

In hierdie opsig is die slot­verhaal ’n kragtoer in die klein: Dit heet “Nog ’n dag” en die waansin van die daaglikse ­joerna­listieke werklikhede word aan die kaak gestel en dan word dit die agtergrond vir ’n fantasie van die skrywer wat ’n verhaal begin skryf in ’n taal tussen ­Afrikaans, Nederlands en Duits. Dit is skreeusnaaks, met die verteller wat ten slotte besluit: “I fall on the floor and I laughs and laughss and laughsss”. Die verkeerde grammatika en die ­her­haling en ­­ver­meerdering van die s-klank, ­­­ver­ironiseer die gegewe (“Heute Tag kwam ik in mein offies”).

Die titelverhaal, ­“Plante kan praat”, is ’n oefening in gekheid. Hier is dit die satiriese Goosen aan die woord wat met die ­kits­roem van moderne digters draaksteek. ’n Enkele reël, ­“Plante kan praat” herskryf sy drie keer en omdat ­Johanna van Huyssteen, die “digter”, dit goed vind, is dit goed. ­Triomfantelik is sy, en ­Berlioz bloei oor FMR en sy hoor die ­plante wat met haar praat. En dit is die digter Goosen wat in hierdie verhaal aan die woord is wat met haar besondere (bykans) surrealistiese aanslag die lewe as ’n leuen ontmasker.

In talle verhale is ver­wysings na musiek en mense wat deur ­musiek wil ontglip uit die werklikheid wat hulle versmoor, ­­ver­minder of ­verneder. Hierom is ­dikwels ’n wrede blik op ­karakters, bykans asof die ­vertellende instansie ­daarop uit is om te ontluister.

In die verhaal “Fucked for life” word ’n ­religieuse dimensie ­­­ont­luister deur ’n kru verwysing wat binne die opset van die ­verhaal aanvaarbaar is.

In ­“Wolwors” word geweld ­geparodieer, asook dit wat lesers verwag van seks ge­kombineer met geweld.
Inderdaad het ons hier ’n ­pornografie van ­geweld, maar­ deur die vertelling sekuur in ­beheer gehou.
Dit is bykans ­asof ­Goosen hier die ­voyeu­ristiese ­leser wil gee wat hy of sy verwag, en nog meer. Asof sy wil sê: Jy het gevra, hier is dit.

“Ben Prins se voete” wys op die gebruik van toeval in hierdie ­verhale en verwysings wat ’n ­vervloë wêreld oproep.
“Hulle noem my Jean’’ wat ­inspeel op daardie on­vergeetlike voorganger waarin Anneli van ­Rooyen haar klassieke “Aan die einde van die ­reënboog” sing, ­betrek die gender-tematiek van die verhale met die ­refrein: “Ek is ’n vrou en ek vat kak van niémand nie”.

’n Man “snak soos ’n ­doedelsak” wanneer sy met hom klaarspeel.

Eers lag ’n mens; dan word jy oorval met ­deernis vir die karakters wat uit­gelewer is aan ­voor­oordele en dis­krimi­­­nasie.
’n Mens sou ­hierdie verhaal kon ­benader as ’n soort ­fantasie ­waarin die ­verteller klaarspeel met almal wat haar al leed aan­gedoen het.

Goosen skryf oor low-class joints, oor dollas, oor Durbs en Parow, oor mense wat ­aan­suiker, oor ­ver­skoppe­linge, oor ’n ou wat soos ’n ­Champion-vonkprop lyk. Maar vertel kan ­Goosen ­vertel. Van ­Spokie ­Snygans se ­­er­varings of die leed van Gladys, ’n trassie.

Wreedheid word ­­af­gewissel met hart­­ver­skeurende teerheid soos in die verhaal ­“Begeerte” ­waarin ’n ­simpel mens nie sy ­begeertes en drome kan ­verwoord nie en ten slotte die sagte lied van ’n reënvoël kweel.

Dit is ’n boek wat talle emosies in ’n mens wakker maak.

Ek was gaande oor Goosen se laaste ­digbundel ­Elders aan diens (2007) en hierdie verhale vra vir ’n saamlees daarmee.
Die donker kant van die lewe word dikwels gewys. Die verhale lees vlot, en met ­elke herlees, word ’n mens bewus van die slim komposisie.

Ons noem haar Jeanne Goosen. Welkom terug, Jeanne.

Buy this book

Available at:

Price:


More information

Plante kan praat | Short Stories & Fiction Anthologies


Author: Jeanne Goosen
Category: Short Stories & Fiction Anthologies
ISBN: 9780795703003
Date Released: 01 June 2010
Price (incl. VAT): R 260.00
Format: Soft cover, 160pp

About this author

Jeanne Goosen


Jeanette (Jeanne) Helena Goosen was born on 13 July 1940 in Parow, Cape Town. She attended Parow High School and studied radiography at the University of Cape...

Read more...

Kwela also recommends these titles: